
George Landbouskou NAWEEK
Maak gereed vir een van die Suid-Kaap se gewildste jaarlikse geleenthede! Die George Landbouskou vind van 27 tot 29 Augustus 2026 plaas en beloof weer om ’n hoogtepunt op die kalender te wees vir boere, besighede, gesinne en almal wat ’n passie vir landbou het. Hierdie ikoniese skou bring die landbougemeenskap en die breër publiek saam vir drie dae van kennis, netwerke, vermaak en aksie.
Die skou skop Donderdagoggend af met ’n gewilde Sakeontbyt, waar sakelui en rolspelers uit die landbousektor saamkom vir ’n inspirerende oggend. Die spreker sal binnekort aangekondig word – merk solank die datum in jou kalender!
Perdeliefhebbers kan uitsien na ’n opwindende perdeprogram in die arena met van die streek se beste ruiters en perde. Die program sluit onder andere Saalperde, Boerperde en SA Riding Horses op Donderdag, Jumping en Vaulting op Vrydag, en Kampioenskapsklasse op Saterdag in.
As gevolg van die nasionale uitdagings met bek- en klouseer sal daar ongelukkig vanjaar nie gesplete-hoef diere soos beeste, melkbeeste en skape fisies by die skou wees nie. Daar sal egter ’n opleidingsdag vir skaapwerkers aangebied word, en skole kry gratis toegang om na ’n opvoedkundige aanbieding deur Corne Nel van BKB te luister, waar leerders meer oor skaaprasse kan leer deur middel van foto’s en video’s.
Saterdagaand bring die bekende Stock Car-wedrenne, wat altyd groot skares lok met adrenaliengevulde aksie en motors wat mekaar op die baan aandurf. Die skou se Sportfees bied ook verskeie ander sportsoorte, insluitend ’n Sake-aflos, Strongman-kompetisie, Toutrek, Kickboxing Fight Night en Skaak.
In die vermaaklikheidstent wag daar ’n fantastiese atmosfeer met ’n verskeidenheid plaaslike en nasionale kunstenaars wat deur die naweek optree. Rugbyondersteuners kan ook uitsien na ’n groot skerm op Saterdagaand waar die rugby saam gekyk kan word.
Die skouterrein sal ook vol wees met kosstalletjies, algemene en industriële uitstallers, asook motors, trekkers en plaastoerusting. Die Departement van Landbou sal teenwoordig wees om waardevolle advies en inligting te deel en bied ook ’n spesiale Boeredag aan.
Die Damesoggend op Saterdag met die immer gewilde Matie van Graan beloof om die tent te laat skater van die lag – ’n hoogtepunt wat jy nie wil misloop nie!
En natuurlik, vir die jongspan – moenie die Merry-go-round mis nie!
Die George Landbouskou is ’n geleentheid vir die hele familie – waar landbou, besigheid, sport en vermaak saamkom in ’n feestelike atmosfeer.
Bring jou familie en vriende en kom geniet ’n naweek vol pret, kennis en aksie. Ons sien jou daar!


